Dis ons pleeghuis waar kinders wat uit soms haglike omstandighede uitkom, ‘n tuiste kan vind, waar hulle vry en veilig kan ontwikkel in gesonde volwassenes. Ons wil graag van kindsbeen saam met hierdie kinders groei sodat hulle eendag as ware volwassenes ‘n suksesvolle beroep sal kan volg. Ons het wonderlike pleegouers wat hierdie kinders omvou met liefde, ondersteuning en die nodige dissipline. Hulle bied vir hierdie kinders ‘n normale huishouding waar hulle in gesinsverband saam die lewe kan geniet.
Ons ondersteun die kinders deur hulle Laerskoolloopbaan, met beroepsleiding in die Hoërskool, op sport en kultuurgebied, en dan ook met hulle studies na skool sodat hulle ‘n suksesvolle beroep kan beoefen.
Ons benodig deurentyd kontantdonasies deur middel van ‘n debietorderstelsel, asook voedsel sodat ons die huis se oorhoofse uitgawes kan verminder. Word vandag nog ‘n
Vriend van die Toekomstuiste en onderteken ‘n debietordervorm vir so min as R50 per maand.
Ons is ook uiters dankbaar vir vennote, individue en die gemeenskap wat vir ons op ‘n gereelde basis kos skenk. #Clubviewspar #Woolworths
Dan is daar ook ander organisasies en mense wat ‘n gemeenskap bymekaarbring en vir ons allerhande benodigdhede skenk. Ons ondersteun ook graag ander pleeghuise en is dankbaar dat ons kan hande vat en mekaar kan ondersteun.
Ons neem binnekort die kinders vir ‘n lekker vakansie gedurende Junie 2018.