ATTSA gee hulp met ʼn warm hart maar hef ook op en bemagtig
Wie is die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA)?
ATTSA is ’n onafhanklike welsynsorganisasie wat met hulle betrokkenheid by verskeie projekte gereeld die groot geskenk van trots en menswaardigheid aan mense gee wat selde of ooit daardie gevoel ervaar.
“By die Afrikaanse Toekomstrust skep ons tuistes vir fondse,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA in haar Woensdagaand-program op LEKKER FM 98.3 waar sy weekliks onderhoude voer en positiewe stories deel wat uit ATTSA se projekte voortspruit. “Welsynswerk is deel van ʼn mens se DNA en maatskaplike werk is iets wat uitgeleef moet word.” Sy het onlangs met Anton Smit, voorsitter van ATTSA, gesels waar hy vertel het dat sy betrokkenheid by hierdie instansie dit moontlik maak om sy passie uit te leef om ʼn verskil te maak in haweloses, kinders en armes se lewens vir wie niemand anders omgee nie.
“Wanneer iemand wat nutteloos voel geleer word om naaldwerk te doen en in verwondering die eindproduk sien, vind daar soveel meer as net werkskepping plaas. Wanneer ʼn vrou wat vantevore geen heenkome of inkomste gehad het nie geleer word om koekies te bak prontuit erken dat dit so lekker is om weer saak te maak, kan jy nie anders as om met dankbaarheid te kyk na die verskil wat ATTSA bewerkstellig nie,” deel Smit.
Hy gaan voort om te verduidelik dat ATTSA die Help die helpers-fonds gestig het nadat hulle veral na die Covid-19-pandemie bewus geraak het van soveel mense en instansies wat groot en goeie werk doen, maar sonder enige ondersteuning. “Ons het skenkings gekry wat dit moontlik gemaak het om van hierdie instansies wat finansieel swaarkry te help met voertuie, salarisse en selfs administratiewe probleme soos registrasie. Die Afrikaanse Toekomstrust is hier om te help en nie om iets daaruit te kry nie. Ons help spesifiek graag organisasies wat in opheffing glo. Ons glo nie in afhanklikheid nie. Ons glo nie in sit nie. Ons help dus om mense te voer, maar leer hulle dan om selfstandig te kan funksioneer sodat ons kan ophou om hulle te voer.”
Een van hierdie instansies wat op opheffing ingestel is, is Ge-Help. Hier word produkte namens welsynsorganisasies en entrepreneurs verkoop wat daarna streef om selfonderhoudend te wees. Liezel Carelse verduidelik dat sy produkte namens organisasies verkoop soos Martiniaal-naaldwerksentrum, waar die inwoners van Reddingsdaad nie net gehuisves en van kos voorsien word nie, maar ook opgehef word om naaldwerk te leer doen om op so ʼn manier ʼn inkomste te kan genereer. Voorskote, wasgoedsakke en hoëgehalte warm en dik slaapsakke is van die produkte wat inwoners onder leiding van Martina Brink maak en wat dan op Ge-Help se webwerf beskikbaar gestel word. “Ge-Help verkoop ook houtboksies wat deur mans sonder ʼn heenkome gemaak word onder leiding van Ooskerk in Pretoria. Koekies wat by Eljada huis gemaak en verpak word, is ook baie gewild.” Liezel noem dat Ge-Help vir “God Eerste” staan.
ATTSA se leuse is “Hulp met hart” en ondersteun projekte met dieselfde uitgangspunt:
Voorbeelde van projekte wat ATTSA ondersteun, is die volgende:
- Opleiding in pleegsorg.
- Let’s Work It Out gee leiding met vakkeuses en loopbaanrigtings aan kinders in Louis Botha Kinderhuis.
- Hope Giving Foods se kosprodukte word tydens die tafeltjieprojek aan haweloses tydens individuele gespreksessies gegee waar ook werk verskaf word.
- Die Groei Goggas-projek kyk na voorskoolse kinders in Danville.
- Northern Lights lei jongmanne met geen heenkome op om selfvoorsienend te wees en ʼn bydrae tot die ekonomie te lewer.
- Moeggesukkel reik uit na behoeftige families en help met opheffing.
ʼn Ooievaarstee vir ongewenste babas vind op Vrydag 26 Augustus plaas waar die publiek gevra word vir doeksakke met bababenodigdhede. Hierdie skenkings sal aan persone uitgedeel word wat na verwerpte babas omsien.
Jou bydrae, hoe gering ook al, sál ʼn verskil maak. SMS die woord HELP na 40112 of stuur ʼn e-pos na help@attsa.org om ook ʼn stukkie van jou hart te gee. Besoek gerus ATTSA se webwerf vir meer inligting oor hulle projekte.