ATTSA verklaar 9 Maart tot Nasionale Sade van Sonskyn-dag

SadeSonskyn2_ATTSA

Met die Sade van Sonskyn-projek wat uitloop op die Nasionale Sade van Sonskyn-dag op 9 Maart elke jaar, wil ATTSA vir mense ’n stukkie sonskyn bring.

“Net soos die sonneblom wat in moeilike tye haar gesiggie na die son draai, wil ATTSA vir alledaagse mense ’n stukkie sonskyn bring. Mense wat daagliks, sonder om iets terug te verwag, ander se lewe bietjie makliker maak – iemand wat deur ’n moeilike situasie gaan, ’n verpleegster of gemeenskapswerker,” het Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA gesê.

“Ons dink soveel keer ‘dit is wonderlik wat die mens vir my of ander doen’, maar ons stel elke keer uit om daardie onbaatsugtige liefde, deernis, omgee of waardering te verwoord. Meeste van ons het die afgelope paar jaar iemand aan die dood afgestaan – en elke keer dink ons, ons moes méér gesê of gedoen het.

“Hierdie projek skep ’n geleentheid om sommer elke dag ’n sakkie Sade van Sonskyn uit te deel. So plant ons elke dag sade van sonskyn regoor Suid-Afrika.”

Die projek lê Bronkhorst baie na aan die hart.

“Ons het Sade van Sonskyn begin ter nagedagtenis aan Gladys van Wyk.  Sy het met haar eenvoudige werkswyse en Jesus-liefde duisende sonneblomme in Suid-Afrika geplant. Haar beweegrede was altyd liefde: vir haar medemense, kinders en die Here. Alles begin met liefde – jou werk, jou mense en jou dade.”

Soos altyd kom ATTSA se leuse van Hulp met Hart weer na vore.

“Dit is inderdaad ’n hartsprojek, want Gladys se dade het weer sonskyn in verskeie mense (ook in myne) se lewens gebring. Na haar afsterwe het die omvang van haar plant, versorg en groei eers duidelik sigbaar geraak – sy was ’n gemeenskapsreus wat duisende mense se lewens aangeraak het.”

Vir Bronkhorst gaan dit oor die praktiese uitvoering van iets wat eenvoudig kan voorkom, maar vir iemand wat dit nodig het, groot impak kan hê.

Sade van Sonskyn sakkie:

  • Eenvoudige bruinpapier sakkie
  • Plak die Sade van Sonskyn-logo daarop
  • Pak alles wat geel is in daardie sakkie (bv. NikNaks, Lays, Jelly Tots, geel blomme)
  • Bind ’n geel strik aan die sakkie en skryf ’n nota (op geel papier) waar jy deel dat jy elke dag sade van sonskyn plant.
  • Neem dan ’n foto van jou sakkie en deel op sosiale media met die hutsmerk #sadevansonskyn

Kontakpersoon: Dinah Bronkhorst by help@attsa.org

 

Meer artikels