GROEI-GOGGAS KRY VOELERS EN VLERKE
Woensdag 30 November was ʼn hoogtepunt vir ʼn paar goggas. Hoekom? Want sommige het voelers gekry en ander vlerke om verder te kan vlieg!
“Groei-Goggas is ʼn skooltjie in Danville wat in Januarie vanjaar sy deure vir voorskoolse kinders oopgemaak het. Hierdie ATTSA-ondersteunde projek kon met groot sukses gedurende 2022 kinders met groot maatskaplike uitdagings aan ʼn opvoeding blootstel wat op skoolgereedheid én waardestelsels fokus,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA.
Melandri Sneygans, Groei-Goggas se grondslagfasehoof, het in haar toespraak tydens die Groei-Goggas se baie spesiale vlerkieoggend na 1 Korintiërs 13:13 verwys: “Ons het hierdie skool van dag een af met geloof, hoop en liefde begin, en nou kan ons die krag van die Woord sien wanneer ons na ons kleuters kyk. Ons liefde het hulle gevorm om weer te hoop en elke dag in geloof aan te pak.” Frances Delport, Groei-Goggas se skoolhoof, het tydens die funksie elke kind se spesiale karaktereienskappe uitgelig.
Bronkhorst vertel hoe die geleentheid erkenning aan die verstandelike ontwikkeling van kinders gegee het, maar ook aan die ontwikkeling van hulle karakters en menswees. “Graad RRR-maats het deur die jaar so mooi ontwikkel en het nou hulle voelers gekry om volgende jaar na graad RR te vorder. Graad RR-maats het nou hulle vlerkies gekry sodat hulle verder na graad R kan vlieg. Kleuters is volgens die departementele voorskrifte geassesseer.”
Sy deel hoe hierdie kinders eintlik elkeen ʼn kroon verdien. “Hulle het elke dag skool toe gestap en in die klas met ʼn glimlag kom sit, gewillig en leergierig. Hulle het soos sponse die nuwe kennis opgeneem. Een maatjie het 35 minute laat vir die funksie opgedaag. Toe sy daar instap, was sy só moeg en vol stof omdat hulle so ver moes stap om daar te wees. Sy het steeds dolgelukkig saam met die ander gespeel, gelag en gedans terwyl hulle aan die vetkoeke gesmul en koeldrank gedrink het.”
Die meeste ouers, wat groot armoede ervaar, het van ver af gestap om die geleentheid by te woon. Die personeellede het elkeen ʼn Sade van sonskyn-sakkie ontvang, ook ʼn ATTSA-projek wat erkenning gee aan persone wat ʼn positiewe verskil in die gemeenskap maak.
Bronkhorst het die boodskap van die dag soos volg saamgevat: “Hoop laat jou glo dat daar ʼn beter lewe bestaan as waaraan jy gewoond is. Geloof gee die versekering dat daar mense is, en natuurlik ons Liewe Vader, wat altyd vir Groei-Goggas sal omgee. Liefde word elke dag by Groei-Goggas ervaar wat deur die personeellede uitgestraal word.”
Daar sal op Dinsdag 17 Januarie 2023 ʼn bekendstelling van die Groei-Goggas se splinternuwe graad R-klas wees. Media is welkom om die amptelike opening by te woon.