|| MEDIAVERKLARING || Afrikaanse Toekomstrust ondersteun StreetShower en Eleos-aksie met hart

WhatsApp Image 2021-10-19 at 10.40.29 (1)

Hulp met hart kom in aksie met die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) se projekte wat sosio-maatskaplike probleme op plaaslike bodem aanspreek. Die nie-winsgewende organisasie span kragte met ander weldaadsorganisasies saam om minderbevoorregte individue en gemeenskappe se realiteit te verander deur op armoedeverligting, opleiding, opvoeding en die herstel van mense se menswaardigheid en onafhanklikheid te fokus.

Op 16 Oktober was ATTSA van die rolspelers wat StreetShower en Eleos bygestaan het om nagenoeg 150 hawelose persone van die Daspoort-area te voorsien van ‘n warm stort, ‘n nuwe stel klere en skoene, ‘n feesmaal en geestelike ondersteuning wat aan hul lewe weer koers en betekenis kan gee.

“Die dag het een doel voor oë gehad: om barmhartigheid teenoor ons medemens te wys en die Hemelse Vader te eer. Die voorbidding en veldwerk wat hierdie projek vooruit gegaan het, was ongelooflik. Hierdie persone is onder brûe en voor winkels, waar hul saans nesskrop om te gaan slaap, opgesoek en per uitnodiging na die dag genooi. Dit is dus nie ‘n geval dat hul opdaag en in ‘n ry inval nie. Hy of sy kry ‘n uitnodiging met hul naam op; hul is daardie dag die eregas. En aan hul opgehelderde gesigte wanneer hul daar wegstap kan jy sien dat hul belangrik gevoel het. Iemand het hul op daardie dag weer op hul naam genoem,” verduidelik Clariza Botha, bemarkingsbestuurder van Eleos.

Volgens haar het vrywilligers van heinde en ver gekom om die Here se hande en voete te wees en te dien. Die StreetShower-projek, wat bykans elke tweede maand plaasvind, word ook na ander dele van die land uitgerol. Die volgende een word vir die Tuinroete beplan.

“Hierdie aksie het mense se harte aangeraak en nuwe deure oopgemaak hoe om haweloses se nood aan te spreek en werklik te verlig. Diegene wat tyd afgestaan het om betrokke te wees, het net soveel of méér betekenis uit die dag geput as die ou wie daardie dag met ‘n haarsny, naelsknip, berading of ‘n CV gehelp is. Daarom wil ek graag die publiek aanmoedig om by hul gemeenskap betrokke te raak. Die wonderlike fondasie vir verandering is gelê en ons kort helpers wat bereid is om deur opvolgwerk ‘n pad met hierdie mense te stap,” sê Botha.

Volgens die uitvoerende hoof van ATTSA, Dinah Bronkhorst, is trots, hoop, onafhanklikheid, selfbehoud, selfwaardigheid, vooruitgang en opleiding die grootste geskenk wat jy vir enige iemand kan gee is. “As jy hieroor gaan sit en dink is dit die kern wat ons as ouers graag aan ons kinders wil oordra. Almal is nie in die bevoorregte posisie om in liefdevolle huise met ‘n ondersteuningstelsel groot te word nie. Dit is híér waar ATTSA inkom en ‘n verskil maak,” sê sy.

ATTSA se projekte spreek die behoeftes aan wat aan armoede gekoppel is, wat  voedingsprogramme, korttermyn uitreik-aksies sowel as langtermyn oplossings soos opleiding insluit.

Indien u by lewensveranderende uitreike en aksie betrokke wil raak deur u tyd of ‘n donasie te gee, kan u enige van die volgende persone kontak:

UITGEREIK: 28 Oktober 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Dinah Bronkhorst
Uitvoerende hoof: Afrikaanse Toekomstrust
Tel: 072 126 1158

 

Meer artikels