|| MEDIAVERKLARING || ATTSA bied kardinale ondersteuning aan maatskaplike werkers
Maatskaplike werkers speel ’n baie belangrike rol in die Suid-Afrikaanse samelewing, maar hulle kry nie naastenby al die ondersteuning wat hulle nodig het nie en daarom het die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) in samewerking met Fact Network en S-leer besluit om kardinale opleiding te verskaf.
“Volgehoue opleiding aan maatskaplike werkers is van kardinale belang om effektiewe dienslewering in praktyk te verseker. Opleiding bied aan maatskaplike werkers nie net die wel begronde teoretiese grondslag nie, maar ook praktiese vaardighede wat hulle in dag-tot-dag werk met ‘n verskeidenheid van kliënte groepe kan gebruik. Deur die opleiding bly maatskaplike werkers op hoogte van die jongste literatuur, bewys-gebasseerde praktykvaardighede en word daar verseker dat dienslewering aan beide etiese en wetlike vereistes voldoen,” het dr. Louise Aucamp, stigter van Fact Network en aanbieder van die kursus gesê.
“ATTSA se fokus in die projek is ‘Help die Helpers’. ATTSA het die behoefte in die veld geïdentifiseer om gehalte opleiding aan maatskaplike werkers beskikbaar te stel ten einde die maatskaplike professie se hande te versterk om effektiewe dienste te lewer in ’n veld met min hulpbronne,” het dr. Aucamp bygevoeg.
Maatskaplike werkers se uitdagings wissel van hul daaglikse take, gebrek aan befondsing tot moeilike omstandighede.
“Maatskaplike werkers (veral die werksaam by nie-winsgewende organisasies) is van die swak betalende beroepspersone in Suid-Afrika. Hulle word dikwels gekonfronteer met minimale ondersteuning en hulpbronne in die verrigting van kardinale en belangrike werk. Deur die beskikbaarstelling van die opleiding verseker ATTSA dat Maatskaplike Werkers deur middel van hoë gehalte opleiding ondersteun word met kennis en vaardighede om effektiewe dienste te lewer. Die beskikbaarstelling van gratis opleiding aan Solidariteit Maatskaplike Werk Gilde-lede verlig verder ook die finansiële las op maatskaplike werkers wat andersins self fondse sou moet genereer om opleiding by te woon en te voldoen aan SACCSPS se vereistes vir volgehoue professionele opleiding.”
Die opleiding begin in die komende week en sessies is versprei oor komende maande.
Onderwerpe wat behandel sal word, sluit in: Neurobiologie van emosionele regulering; Regsbeginsel tot praktyk; Self-skade (self-harm); Normale seksuele ontwikkeling tot problematiese seksuele gedrag; Dinamika van onthulling in seksuele misbruik; Mandaat verslagdoening en wetgewing; ACE (Adverse Childhood Experiences); Neurobiologie van trauma.