|| MEDIAVERKLARING || Hoe die Afrikaanse Toekomstrust met R20 ‘n verskil maak

IMG-20211014-WA0020-01

“Ons besef dat inflasie elkeen se beursie skud wanneer jy met ‘n mandjie kruideniersware by ‘n kasregister kom. Die
Afrikaanse Toekomstrust kan egter nie genoeg dankie sê vir die publiek en maatskappye se onbaatsugtige skenkings
om ‘n verskil in ander se lewens te kan maak nie,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse
Toekomstrust.

Vir u is R20 dalk net R20 maar daarmee kan die Afrikaanse Toekomstrust woeker om ‘n kind te voorsien van:

• ’n Ontbyt: toebroodjie, vrug en ‘n koeldrank;
• Skryfbehoeftes: een pen, ‘n potlood, ‘n skryfboek en ‘n uitveër;
• ’n Gebalanseerde middagete met twee groentes, hoender en ‘n stysel; of
• Vervoer skool toe en terug vir twee kinders.

Dié nie-winsgewende weldaadsorganisasie beywer hul om volhoubare voedingskemas en opleidingsprogramme te
vestig, armoede te verlig deur persone te bemagtig, studiebeurse en –lenings deur middel van ‘n skatkisfonds
beskikbaar te stel en langtermyn oplossings vir weggooikinders deur hul gevestigde pleeghuismodel te bied.

“Ons gefokusde projekte gee aan minderbevoorregte persone die geleentheid om hulself te ontwikkel tot individue
met trots, hoop, onafhanklikheid, selfbehoud, selfwaardigheid en ‘n visie vir vooruitgang. Kinders, wat in
afhanklikheid van volwassenes moet grootword, het selde beheer oor hul finansiële posisie of die koers wat hul lewe
gaan inslaan. Daarom spits die Afrikaanse Toekomstrust hul daarop toe om minderbevoorregte kinders by te staan
deur in hul basiese behoeftes te voorsien en die geleentheid te skep waar hul kan skoolgaan en hul hulself moontlik
verder kan bekwaam,” verduidelik Bronkhorst.

Een van hul suksesvolle projekte is in die Wes-Kaapse dorpie Rawsonville gesetel. Onder die liefdevolle vlerk van
Gladys van Wyk voorsien hul daagliks meer as 250 kinders met ‘n gebalanseerde maaltyd, deel hul klere en
toiletware uit en leer hul die kinders van basiese higiëne en bied hul ‘n nasorgsentrum waar kinders opgepas en met
huiswerk gehelp word. Hul voorsien ook 600 mense van kos by die Reddingsdaadprojek in Kwaggasrand, Danville.

En indien u gereken het ‘n arm persoon gedefinieer word as iemand wat platsak is, sit u die pot mis! Hoewel ‘n
finansiële tekort dit grootste bydraende faktor is, word iemand as arm of minderbevoorreg geklassifiseer waneer hy
of sy ‘n tekort aan drie of meer van die volgende dimensies het: gesondheid, behuising, voeding, beskerming,
opvoeding, inligting, water en sanitasie.

Volgens Statestiek Suid-Afrika se nuutste verslag oor kinderarmoede word meer as 60% van Suid-Afrikaanse kinders
(0 tot 17-jaar) as multidimensioneel arm geklassifiseer. “As jy vat dat meer as 20 miljoen van ons bevolking,
nagenoeg een derde, uit hierdie ouderdomsgroep bestaan is die sosio-ekonomiese krisis ‘n werklikheid en staan
diensorganisasies, kerke en weldoeners bont om te help waar hul kan,” sê Bronkhorst.

Die Afrikaanse Toekomstrust moedig die publiek aan om op wêreld voedseldag, 16 Oktober, ‘n behoeftige gesin in
hul buurt te voorsien met kruideniersware, ‘n bord kos te gee vir ‘n honger persoon of ‘n volhoubare voedselskema
in hul omgewing te ondersteun met ‘n bydrae. Hul kan ook ‘n R20-donasie tot die Afrikaanse Toekomstrust se
projekte bydrae deur die woord ‘VOED’ na 40112 te SMS.

Nie-bederfbare kruideniers- en toiletware word dringend by die Reddingsdaadprojek benodig. Individuele skenking
kan by die projek self of die Afrikaanse Toekomstrust se kantoor by die Voortrekkermonument afgelewer word.

UITGEREIK: 14 Oktober 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Dinah Bronkhorst
Uitvoerende hoof: Afrikaanse Toekomstrust
Tel: 072 126 1158

 

Meer artikels