Northern Lights-inwoners oes groente

WhatsApp Image 2022-03-29 at 5.30.57 PM

Die antwoord vir die reuse-werkloosheid syfer in Suid Afrika is selfvoorsiening. Die ATTSA se Northern Lights-projek gee aan jongmanne ’n geleentheid om ’n sinvolle en positiewe bydrae binne die Suid-Afrikaanse ekonomie te lewer.

Die Northern Lights-projek is ’n aanloopbaan wat geleenthede bied aan individue wat deur die strome van die lewe uitgespoeg is – waar die werklikheid van honger gaan slaap en alleen wakker word nie net ’n vrees is nie, maar ’n daaglikse realiteit.

Onlangs is die Northern Lights-kandidate deur Pierre Swart genader om groente op sy plaas vir dié projek en ander te gaan pluk. Op die dag het hulle selfs geleer hoe om groente te oes, te verpak, te verwerk by die huis en in sakkies te pak reg vir die volgende ete. 

Een van die deelnemers het dit as ’n lekker en leersame ervaring beskryf. Swart het sy kennis met die jongmanne gedeel en middagete was worsbroodjies. Dit was vir almal wat deel van die dag was ’n heel nuwe ervaring wat hulle nie net nuwe vaardighede geleer het nie, maar ook meer begrip vir ander wat dit op ’n daaglikse basis doen.

Northern Lights het vier kratte groente ontvang en die res sal aan ander projekte met behoeftes geskenk word.

Daar is baie bekwame jongmans wat steeds ly onder die druk van hul daaglikse omstandighede. Jong volwassenes wat nooit die geleentheid ontvang het om te gaan studeer nie.

Dié projek voorsien die jongmanne van behuising, vaardigheidsontwikkeling en ’n geakkrediteerde gekwalifiseerde ambag. Daar is ’n groot behoefte aan gekwalifiseerde personeel in dié industrie. Deel van die studies sluit onder andere in: bemarking, basiese boekhouvaardighede en besigheidsbeginsels, sodat hulle na afloop van hul studies hul eie onderneming kan begin. Ons implementeer ’n stelsel wat ’n afhanklike persoon omskep in ’n onafhanklik individue wat na afloop van sy studies vir homself en sy gesin kan sorg. 

Binne die Northern Lights-familie vind hulle ’n huis en gesin wat mekaar op alle vlakke ondersteun en help groei as voorsiener en volwassene.

Northern Lights in Pretoria-Noord beoog om 10 jongmanne te huisves, wat elkeen in sy eie houthuis woon. Daar is ’n gemeenskaplike badkamer en ons beoog ’n gemeenskaplike kombuis met geriewe. Daar woon tans vyf jong manne wat daagliks drie etes ontvang. Meeste van die dienste word vanuit die woonhuis op die perseel voorsien.  Daar woon ’n projekbestuurder en ’n administratiewe beampte op die perseel wat die jong manne ondersteun en toesig hou oor die werksaamhede.

Meer artikels