Ooievaarstee vir ongewenste klein lyfies

madhuri-mohite-kWJm2a6DbAw-unsplash

Die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) en Unchain our Children se Ooievaarstee vir ongewenste klein lyfies wil liefde gee vir babas wat verwerp, verstoot en verwaarloos is. Dit sal op Vrydag 26 Augustus van 10:00 tot 12:00 plaasvind by Hugostraat 474, Waterkloof Glen.

“Baie babas word gebore sonder dat daar spesifiek vir hulle beplan is. In stabiele huishoudings kan dit ʼn wonderlike verrassing wees, maar baiekeer word hierdie babas sonder ʼn ondersteuningsnetwerk gebore of iemand wat vir hulle omgee,” verduidelik Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATTSA.

“Met hierdie projek nooi ons die publiek om liefde vir ʼn babalyfie te bring wat nie gevra het om hier te wees nie, maar ook liefde en omgee nodig het,” sê Bronkhorst.

ʼn Doeksak (nuut of ʼn goeie, gebruikte een) kan met bababenodigdhede volgemaak word wat dan as toegang by die Ooievaarstee sal dien. Persone wat belangstel maar nie die tee kan bywoon nie, kan ook op die dag skenkings of só ʼn gepakte doeksak by die deurry- ooievaarstee kom afgee.

“Hierdie skenkings word dan aan persone uitgedeel wat na verlate babas omsien, of aan moeders wat in desperate nood verkeer,” sluit Bronkhorst af.

Vir meer inligting oor ATTSA se bedrywighede, kontak hulle by help@attsa.org of besoek hulle webwerf as jy graag wil deel wees van die Ooievaarstee.

 

Foto: Madhuri MohiteUnsplash

Meer artikels